Mat 15:24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.

Rom 9:4 Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes;

Tuesday 12 June 2012

Wie is skuldig?

Die Woord sê ons lewe hier op aarde net een maal en daarna sterwe ons om ons Saligmaker te ontmoet. So wat vandag en môre vir ons inhou is in ons Hemelse Vader se hande en die Psalmis verklaar dat ons jare of leeftyd hier op aarde sewentig jaar is, en as ons baie sterk is tagtig jaar.
Tog lewe ons asof ons vir altyd op die aarde gaan wees en laat ons so dikwels dinge agterweë wat afgehandel moet word. Wat sal die rede wees dat ons die gebod wat ons Hemelse Vader vir ons gegee het naamlik dat ons Hom eerste moet lief hê met alles wat binne ons is en dan daarna ons naaste net soos onsself, dat ons die naaste gedeelte so min nakom? Het ons dan almal geabdikeer en afstand gedoen van ons Goddelike verantwoordelikhede en roeping?
Begin ons by die priester van die huis, die man, dan sien ons dat hy in die eerste plek so min sigbaar en onsigbaar instaan of intree vir sy gesin by ons Hemelse Vader dat dit lyk of daar geen priesters van huise meer bestaan nie!. Hoeveel gebede en smekinge kom nog van hom vir sy gesin en hoeveel respek verdien hy nog van sy gesinslede? Deur elke dag se voorbeeld wat hy stel deur sy optrede, taalgebruik, drankgebruik, ens. dan is dit verstaanbaar hoekom daar ook geen ontsag meer is vir ons Hemelse Vader nie, want die priester van die huis het sy pos verlaat en lê meestal op die rusbank of ‘lazy boy’ en rugby en sportgebeure en bekyk en skree dan nog ook op sy vrou en kinders om die kos en versnaperinge betyds en gereeld vir hom aan te dra! Die dae dat ons mans soos Joshua gesê het dat ‘ek en my huis, ons sal die HERE dien’ is vinnig besig om uit te sterf in Suid-Afrika! Ons Sabbatsontheiliging word in stilswye deur die priesters van die huise goedgekeur en Sondae loop ons in winkelkomplekse rond om inkopies te doen en die dag met wêreldse vermaak op te knikker i.p.v. dat ons die dag tot eer van ons Hemelse Vader sal aanwend. Die priester van die huis het sy eie vrou nie meer alleen lief nie, maar sal ook ander vroue by die werk, of waar ook al, onthaal of sy oë en verstand besoedel met pornografiese materiaal op die TV laat nagte of geheime internet blaaie besoek! Hoe het die priester van die huis nie sy priesterskap verruil vir die genot van die lewe nie! Die gebed altaar word verwaarloos en die voorbeeld om gereeld die gemeente te besoek word deur feitlike alle priesters van huise verontagsaam! Hoekom? Want niemand sal meer vir die priester van die huis vertel wat om te doen of wanneer om dit te doen nie! Die priester luister net na homself en laat nie meer toe dat God met hom deur Sy Gees praat nie! En môre as sy uurglas leeggeloop het dan bedrieg ons mekaar nog vêrder op sy begrafnis en ’n elle lange lys van hoe lank was hy ouderling en by hoeveel verenigings was hy betrokke en so word ons wêreldse oor getroos en glo ons elkeen gaan hemel toe! Watter hartseer toestand is ons nie in nie! Waar is daar nog godsmanne wat die hand aan die ploeg wil slaan en opstaan vir hulle God en gesinne en in die bres gaan staan sodat die duiwel kan weg vlug van die krag van God en sy volgeling! Mag die roepstem van die verlore priesters van gesinne wakker geskud word sodat daar weer lewe en ontwaking mag plaasvind wanneer ons agter kom hoedat ons versuim om waardige priesters vir ons huise en gesinne moet wees, in Jesus’s Naam!!
Gaan ons oor na die vrou agter elke man en die moeder van elke huis, dan kom die gedagte wat in Spreuke voorkom oor ’n deugsame vrou onmiddellik na vore. Die rol wat elke vrou deur haar man en kinders speel word geweldig onderskat! Die spreekwoord dat agter elke man staan ’n vrou word te ligtelik opgeneem. Sonder die gebed van ’n vrou en die opvoeding van ‘n ma teenoor haar kinders gaan ’n geslag verlore wat gewoond word aan oppervlakkige maniere en die eetgewoontes van ’n gesin verander van gekookte en gesonde kos en eetgewoontes na kitskos en al die gevare daarvan! Aangesien die priesters van die huise nie meer die leiding en tugtiging behartig nie moet die vroue ook hierdie amp beklee en so erf ons kinders wat onhanteerbaar rebels geword het en ons wil ons self laat glo dat sielkunde die antwoord is! Die vrou moet ook werk om die pot aan die kook te hou en die moderne leefwyse vereis al ons tyd en energie en daar bly weinig krag oor om te spandeer aan jul familie. Die omstandighede waarin die vrou haar bevind het van haar ’n vegter gemaak i.p.v. die sagte een in die gesin. Sy aanvaar nie meer dat die man deur God oor haar aangestel is nie en regte word opgeëis wat nooit vir vroue bedoel was nie. Wanneer ons die Woord lees vind ons dat selfs Sara vir Abraham ‘heer’ genoem het. Durf ons dit vandag noem wil ek skat dat ongeveer 90% van alle vroue en selfs mans ‘n aar op hulle kop wil bars wanneer ons aangespreek word oor die orde wat omgedraai word wat God bepaal het. Dit is eerste ons Hemelse Vader deur Jesus Christus en die Heilige Gees, dan die engele, dan die manne, dan die vroue en dan die kinders. Mag ons vroue hulle krag besef deur gebed en ondersteuning en mag ons vroue weer die inspirasie van hierdie volk word en mag die Heilige Gees hulle opwek om weer moeders en ma’s vir hulle gesinne te word! Die krag wat agter elke man staan! Mag ons vrou hulself weer in Christus Jesus ontdek en herstel as die een wat ‘n sintuig het wat die mans nie altyd het nie en mag hulle, hulle volle potensiaal in Christus bereik en sodoende die anker en moeder van die gesin bly totdat ons Koning kom!
Die saak wat die meeste mense liewers wil ignoreer is wanneer ons by ons kinders se opvoeding kom. Want ek voed my kind mos so op soos wat ek opgevoed wou wees toe ek ‘n kind was! Dit wat ek nooit kon kry nie sal ek vir my kind gee en nooit sal my kinders so skaam kry soos ek toe daar nie geld was om iets te koop nie! En die saak van ‘jy sal die een tugtig wie jy liefhet’ is sommer deur die landswet verander en geen onderwyser sal sy hande oplug vir my kinders nie. Vat aan my kinders en jy vat aan my! Sê jy dit vir die HERE ook? Daar was nie ’n tyd waar ons meer gehoorsame ouers gekry het as vandag nie! Hoeveel keer hoor ek in winkelsentrums dat die ouer byvoorbeeld Fanta wil koop, dan sê die kind nee, ek hou van Cream Soda! Al hou die ma of pa van Fanta word daar Cream Soda gekoop want sussie of boetie kry wat hulle wil hê! Wat van klere drag, wat van aande uit en die tyd van terug kom in die huis! Wie besluit die tyd? Definitief nie meer die ouers nie! Wat nog erger is en word, is die manier hoe kinders met hulle ouers praat, die eerste keer sal dalk pa of ma gesê word, maar daarna is dit sommer jy en jou! Daar is geen respek of ontsag vir ouer persone meer nie! Ons kinders het ongehoorsame brokkies geword en ons ouers stap heel voor en durf iemand iets van hulle sê! Wat ons nie besef nie is dat ’n geslag van ongehoorsame rebelle besig is om groot te word en die hartseer van menige ouers is ons voorland! Dank ons Hemelse Vader vir elke ligpuntjie waar jy nog kinders ontmoet wat fyn opgevoed is met respek vir hulle ouers en ouer mense rondom hulle! Hulle beantwoord die Woord wat sê jou kinders is jou eer!
Sal ons nie almal weer werk aan ons verhoudings met ons gesinne nie en sal dit nie vir elkeen van ons weer belangrik word wat ons Hemelse Vader van ons verwag binne ons gesinne nie! Die gesin is ’n gemeente in die kleine en wanneer ons nie na ons gesinne kyk soos wat die Woord en die Heilige Gees ons leer dan skep ons ’n toekoms wat blywend is! Mag ons as gesinne deur die gemeentes deel hê aan die heiligmaking en voorbereiding van die Bruid van die Lam en mag ons lewe nou al so gereed wees vir hierdie Bruilof wat voorhande is dat dit ons sal bemoedig om die beste uit elkeen te haal! Mag ons hemelse verlange ons wakker maak om in te spring en hard te werk totdat die trompette Sy wederkoms aankondig! Mag ons elkeen gereed wees om ons Koning te ontmoet en mag ons dan met vreugde ingaan in Sy ewige heerlikheid!
Gehoorsaamheid is beter as offergawes – laat alles dan tot Sy eer wees!
Mooi dag.

Deut. 4:9 Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak:
Hos. 4:6 My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.
Lev 19:32 Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ‘n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die HERE.
Deut. 5:16 Eer jou vader en jou moeder soos die HERE jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die HERE jou God aan jou gee.
1Sam. 15:22 Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.
Ps. 90:10 Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.
Spr. 17:6 Kindskinders is ‘n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle vader ‘n eer.
Pred. 9:10 Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.
Jes. 58:13 As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie;
Mat 15:4 Want God het bevel gegee en gesê: Eer jou vader en moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe.
Mat 22:37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
Mat 22:38 Dit is die eerste en groot gebod.
Mat 22:39 En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Mat 22:40 Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
Kol 3:23 En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
Heb. 9:27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,
Heb. 9:28 so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.
Effe. 5:25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het
Effe. 5:22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
Spr. 31:10 Alef. Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.
Effe. 6:1 Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.
Kol. 3:20 Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.
1Pet 3:6 soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.


Vir meer intense studies oor die Waarheid, stuur gerus n e-pos aan vaalwaarheid@gmail.com . Voeg ook vriende en familie se e-pos adresse by wat u wil oortuig van die waarheid of wat reeds te doen het met die waarheid. Voer ook gerus u e-pos adres in op hierdie blad aan die regterkant. Al bly u nie in die Vaaldriehoek nie is u steeds welkom!

No comments:

Post a Comment