Mat 15:24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.

Rom 9:4 Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes;

Saturday 12 May 2012

Die Krag Van Pinkster

Die Krag Van Pinkster

Daar kan baie redes wees waarom lidmate uit die Kerk verdwyn. Dit kan as gevolg van sekularisasie, immigrasie, biddeloosheid, afwatering van die gesag van die Skrif, onaanpasbaarheid, ensovoorts, wees. Die dieperliggende oorsaak waarom die lig van die Kerk al dowwer brand en sy krag en sy invloed in die wêreld verloor het, is egter as gevolg van ’n geestelike doodsheid en ’n afwesigheid van die werking van die Heilige Gees.

Pinkster in Jerusalem
Na Jesus se Kruisiging en dood het Sy aanhang onder die massas afgeneem en was daar op Pinksterdag net 120 volgelinge oor. Na die uitstorting van die Heilige Gees het daar ’n skudding in die stad gekom, die Gees het nuut en kragtig gewerk en 3 000 mense het tot beke­ring gekom. Die Heilige Gees het ’n nuwe vlam in die gelowiges aangesteek en hier­die vuur het soos ’n veldbrand versprei. Die Kerk het tot 5 000 lidmate gegroei en kort daarna kon hulle nie meer van die getal Christene boekhou nie. Die Heilige Gees het die gelowiges toegerus met ’n núwe passie en ’n ywer sodat hulle die Evangelie na Judea, Samaria en na die uiteindes van die aarde uitgedra het. Die Kerk het deur die krag van die Heilige Gees gegroei en daar was élke dag nuwe bekeerlinge (Handelinge 2:47).

Pinkster in Efese
Die getal gelowiges in Éfese het drie jaar lank konstant op twaalf bly staan. Dit was vreemd vir Paulus omdat alle kerke in daardie tyd vinnig gegroei het. Paulus het besef dat die probleem met die onkunde oor die Heilige Gees (Handelinge 19) saamhang.
Nadat die Heilige Gees hierdie twaalf dissippels vervul het, het daar ’n nuwe krag losgebreek sodat die getalle só gegroei het dat hulle nie meer in ’n huis kon saamkom nie, maar in die saal van Tirannus. Die Christene se invloed op hierdie dorp het die towerpraktyke, die afgodsdiens en die aanbidding van Diana tot stilstand gedwing.
Hierdie Geesvervulde gelowiges het ’n transformerende impak op die stad gehad.

Herlewing
Toe die herlewing in 1860 in Worcester uitgebreek het, het die Heilige Gees soos ’n magtige wind in ons land begin waai. Die gelowiges wat in Worcester bymekaar gekom het, is vervul met die Heilige Gees en het van toe af élke aand saamgekom om tot in die oggendure te bid. Hulle het dan al singende huis toe gestap. Die Heilige Gees het só magtig gewerk dat al hoe meer mense op die plase tot bekering gekom het. Hierdie vlam van die Heilige Gees het versprei van Wellington, Calvinia, Montagu na al die ander omliggende dorpe. As vrug van hierdie nuwe werking van die Heilige Gees, het daar ’n kragtige sendingontwaking- en momentum losgebreek.


Walliese herlewing
Met die uitbreek van die herlewing in Wallis het daar ’n groot toestroming van mense na die Kerk plaasgevind. Mense het in huise, busse, treine en selfs by hulle werk saam gebid. In ’n stadium was daar soveel bekerings dat al die Bybels uitverkoop was. Huwelike het herstel en buite-egtelike geboortes het met 40% afgeneem. Kroeë het gesluit en daar was geen enkele dronkenskapklag op Nuwejaar nie.
Die Heilige Gees het kragtig gewerk en mense se harte en ook die hele samele­wing verander.

Die Gees in Tessalonika
Paulus skryf aan die gelowiges van Tessalonika dat hulle moet oppas om nie die vernuwende werking van die Heilige Gees teen te staan nie. Dit is moontlik om die vlam van die Heilige Gees te blus en Paulus waarsku die gemeente daarteen. (1 Tessalonisense 5:19).
’n Gemeente kan baie besig wees en baie godsdienstig lyk, maar kan intussen sy krag en invloed begin verloor. Jesus waarsku in Openbaring 2:1-7 dat ’n gemeente nooit geestelik mág afkoel nie. Daarom moet elke gemeente sorg dat sy liefde en toewyding vir die Here nie verflou nie. Jesus waarsku dat as die Heilige Gees se werking in ’n gemeente ophou, Hy die gemeente se lamp sal wegvat.


Nuwe lewe
Ek het so dikwels in my bediening gesien hoe die Heilige Gees ’n leraar of ’n lidmaat se lewe opnuut aan die brand steek en kom vul. As die Heilige Gees in iemand se lewe oorneem, kry jy vir die eerste keer oorwinning oor sonde. Die Heilige Gees gee ’n nuwe vrymoedigheid, krag en outoriteit om met vrug te getuig. As die Heilige Gees se krag in iemand begin werk, groei daardie kerk in getalle en geestelike diepte.
As die Heilige Gees beheer van ’n mens se lewe neem, word die Skrif vir jou lewend en hoor jy God se stem. As jy bid onder leiding van die Heilige Gees, ontdek jy dat jy met nuwe krag, effektiwiteit en gebedsverhoring bid.

Die nood vandag
Is dit nie wat die Kerk vandag nodig het nie? Het die Kerk nie die Heilige Gees uitgeskuif en aanbid die Kerk nie net die twee-eenheid naamlik die Vader en die Seun nie? Die Kerk moet volgens die Skrif groei en steeds ’n groter impak op die wêreld maak. Die Kerk moet die sout en die lig van die wêreld wees. Dit moet die wêreld verander. Die wêreld moenie die Kerk infiltreer, verswak en verander nie.
God is vandag steeds dieselfde God as in die Bybelse tye; daarom moet ons weer die Here vertrou om in hierdie Pinkstertyd ’n nuwe vuur en ywer in Sy Kerk te bring. God wil by elke leraar en leier begin om só uiteindelik die gemeente met die krag van die Heilige Gees te bereik.

Krag van die Gees nodig
Kom ons bid dat die Heilige Gees op­nuut in hierdie tyd gelowiges se lewen­s sal aanraak en verander. Kom ons bid dat elke gelowige weer in die krag en in die volheid van die Heilige Gees sal lewe! Kom ons bid opreg en ernstig: “Here kom doen dit weer vandag! Stuur U volheid en U krag om ons le­wens só te verander dat ons die wêreld sal verander.”

http://www.juig.co.za/article.php?id=178


Vir meer intense studies oor die Waarheid, stuur gerus n e-pos aan vaalwaarheid@gmail.com . Voeg ook vriende en familie se e-pos adresse by wat u wil oortuig van die waarheid of wat reeds te doen het met die waarheid. Voer ook gerus u e-pos adres in op hierdie blad aan die regterkant. Al bly u nie in die Vaaldriehoek nie is u steeds welkom!

No comments:

Post a Comment